Sy klim op die verkeerde skip... en vind die regte man.
Francine Louise Petit is grootgemaak vir een doel: om 'n hertogin te wees. Haar lewe is beplan, haar toekoms bepaal en haar huwelik met 'n invloedryke edelman is die laaste stap in haar aristokratiese opvoeding.
Toe klim sy per ongeluk op die verkeerde skip.
Die Je l'aime behoort aan Louwrens Hendrik Geldenhuys - 'n suksesvolle skeepsbouer en handelaar uit Amatoluskloof. Hy glo nie in titels of status nie. Hy glo in harde werk, eerlikheid en die vryheid om jou eie keuses te maak.
Wanneer Francine ontdek dat haar verloofde haar as niks meer as 'n besitting beskou nie, neem een impulsiewe besluit albei se lewens in 'n nuwe rigting.
Twee jaar later keer sy terug - nie meer as die beskermde hertogin wat op die verkeerde skip geklim het nie, maar as 'n vrou wat haar eie plaas bestuur, haar eerste wins gemaak het en 'n sakevoorstel in haar hand dra.
Wat begin as 'n besigheidsvennootskap, verander stadig in iets wat geen van hulle verwag het nie.
Tussen skeepswerwe, handelsroetes, krieketwedstryde, familie-etes en maanlig op die dek van die Je l'aime ontdek Francine dat liefde nie altyd volgens die re ls speel nie... en Louwrens leer dat selfs die styfste hertogin jou hart heeltemal kan steel.
Oos Kaap: Keerwater is 'n historiese romanse vol humor, passie, stadige romantiese spanning en onvergeetlike karakters - 'n verhaal oor tweede kanse, die moed om self te kies en die liefde wat soms op die verkeerde skip begin.